Silhouette of a windmill against an orange sunset sky, with trees in the foreground.

1920 – 1929

Eerste Bewuswording

Hulle sê kinders onthou nie veel wat met hulle gebeur voor hulle twee is nie, maar ek was twee en kan goed onthou toe my boet, Janneman, gebore is. Dit was in herfs toe die koue ons al goed vasgevat het.

Ons nuwe huis het nog lekker geruik van sement daar waar dit met 'n blink sinkdak tussen die maroelas en doringbome pronk. Eers, het Ma vertel, het sy en Pa saam met sy broer Jakob se familie en die Bergmanns uit die voorwêreld in die Bosveld aangekom, waar daar toe bra min mense was. Oom Bergmann, 'n bouer, het ons huis opgerig en toe dit skaars klaar was, het Pa al ons goedjies oorgebring om weg te kom van, 'Al die monde in Jakob se huis wat net eet, eet, eet.' En toe’t Ma hulle slaapkamer begin regskuif vir nog 'n baba.

Pa is vroeg weg daardie môre, nog voor sonsopkoms, om die ouvrou met die kapkar te gaan haal daar anderkant Steenbokpan. Hy moes seker ou Bul gekniehalter het die vorige aand sodat die koppige ou hings nie vêr kon rondloop in die nag agter die donkiemerries aan nie, wat maar baie gebeur het, en dan moes hy vir ure rondhol agter die perd aan. Teen die tyd dat hy dan by die huis kom, was hy in een van sy buie en moes ek wegkruip vir die strop.

Tot vandag onthou ek die bangheid as hy bakarm van die krale af aankom, en sonder voete skraap sommer so in die loop voel vir die strop by die agterdeur. Die beste plek vir wegkruip was in die spens tussen die kayangkanne waar die skemer jou nie opwys nie. Was ook net ek daar, want my ouer sus, Sofie, het nie slae gekry nie. Maar, o wee, die klein swart miertjies wat daar nesgemaak het waar niemand kon bykom vir uitvee nie, kon seer byt! Jy ken hulle mos.

In daardie dae was die pad van Slangfontein af nog net bietjie breër as ‘n tweespoorpad wat noord geloop het Betsjoeanaland toe, en Stockpoort, waar jy nou die Limpopo oorsteek, was nog nie die grenspos nie. As jy van Nylstroom af kom, moes jy eers oor die Sandrivierspoort Nek waar die osse gespook het om ‘n wa oor te kry, dan by Vaalwater verby en Bulgerivier, wat maar net ‘n paar huisies was daardie tyd.

Dan’t die pad so ‘n lang draai gemaak by Marong verby tot dit twee arms maak by Slangfontein – links Steenbokpan toe en regs Ellisras toe. Daar tussen die twee paaie was mos later die winkel van die lang Elms mense waar ons nooit juis gekoop het nie.

In die kontrei was daar drie tantes wat hulleself uitgegee het as ‘n ouvrou – tant Siena de Groot, tant Anna Kühn van Witkop met die tone wat oormekaar groei van die bunjins, en tant Hantie Verhoef van Gruispan.

Jy’t seker nooit ou tant Hantie Verhoef geken nie, maar sy en oom Antonie het as jonggetroudes in die Bosveld aangekom amper dieselfde tyd as Ma-hulle in die dae toe daar nog nie baie mense in die omgewing was nie. Dit was so 1915 se stryk. Die twee het daar in ‘n klein huisie gebly op Gruispan, skuins verby die plaashuis wat jy geken het as Koenst se plek naby Steenbokpan. Vir een-of-ander rede sou sy nie kon uithelp met boet Janneman se geboorte nie.

Dan was daar ou tant Siena de Groot, wat glo rêrig slordig was. Haar ou huisie was net so skuins voor Steenbokpan. Ma het gesê tant Siena vat nie aan háár nie.

Tant Anna Kühn was van die eerste Kühns wat staatsgrond in die Bosveld gekry het, maar sy’t glo rumatiekhande gehad en het net af-en-toe uitgehelp met ‘n geboorte. Almal het gesê sy’s ‘n deetlike ou tante wat mooi na jou sou kyk as haar hande net reg was voor die bevalling. Sy't met my geboorte op Rooibokvlei gehelp.

Toe Ma se tyd nader kom, het sy ‘n betroubare swarte laat haal en ‘n briefie gestuur Witkop toe sodat tant Anna haarself kon regkry vir die bevalling.

Na ‘n paar dae staan die maer swarte by die agterdeur, wit van die sweet soos hy gehardloop het, om te sê ou tant Anna is ‘banja siek’ en konnie kom nie. Ma sê toe dat tant Hantie die enigste ander vrou is wat sy vertrou, want al was sy ‘n ou korrelkop, het sy geweet van medisyne. Pa moes maar mooipraat dat tant Hantie kom.

Sofie en ek het wakker geword van die kapkar. Ons kon hoor hoe die ystertrappie kraak soos Pa opklim en die leisels klap sodat ou Bul kon padvat Steenbokpan se kant toe. Jy kon ou Bul se maag hoor ‘hoep-hoep’ van al die water wat hy gesuip het en daarna was dit baie stil.

Ek en Sofie het kop-en-punt geslaap op 'n enkel-kateltjie. Sy was 'n regtie merrie wat maklik geskop het om haar sin te kry. Die enigste laken tussen ons was smoors altyd aan haar kant, en jy weet mos, al is dit hóé warm in die Bosveld, party môres kan koel wees en dan't die nagrokke wat Ma gemaak het van meelsakkies ook altyd opgekruip onder jou arms na ‘n nag se lakentrekkery.

 Die laken het altyd na boerseep geruik wat sy van oorskiet vet en seepsoda gemaak het. Dit was Ma se manier om met haarself te praat as sy seep kook, en so het ek van kleintyd af geweet wanneer om sout by te gooi, te wag dat die seep skei en dan die seepsoda in die nagpot te meng om in ‘n dun straaltjie by te gooi terwyl jy bly roer met so ‘n lang kierieklapper houtspaan. Aan die einde van ‘n paar dae se seepkook was die pot mooi wit en ons bene, hande en gesigte rooi van die oop vuur en seepsoda se brand. Dan’t sy die seep in groot erdeskottels uitgeskep om koud te word – net so driekwart vol sodat die seepstene nie later te dik is om in jou hand te hou nie.

Eers het sy die koue seep met ‘n skerp kombuismes gesny in sulke lang stroke soos ek ook maar altyd gemaak het, en dan die loog afgekrap. Die bruin loog as jy dit van die koue seep afkrap, brand jou hande vel-af, en Ma het altyd die lang stene met ‘n wit meelsakdoekie vasgehou voordat sy dit soos ‘n vuurhoutjie-varkhok kruis-en-dwars pak om droog te word. Al die tyd praat sy, 'Sussie, hoe droër die seep, hoe langer hou dit,’ en ek het geluister en geleer van seepkook net soos ek my kinders ook geleer het.

Dit was nie lank nie of Sofie pluk die laaste hoek van die laken nader in die donker en sê, ‘Gaan kyk waar’s Ma, Marja!’

My beenhare het sommer regop gestaan van die skraal April luggie, al het ek probeer om weer in ‘n bondel te rol vir bietjie hitte, maar haar voet tref my vol in die ribbetjies en ek moes voel-voel van die katel af. Die outydse ysterkateltjies was baie hoog en die klapperhaarmatras het dit nog hoër gemaak. Dit was baie hard en dun en nog stekerig ook. Maar so in die afklim, knyp ek per ongeluk haar vel vas met my knieg en sy skrou soos ‘n maervark. Ek was oortuig Ma sou kom kyk wat fout is, want as daar fout was, was dit nooit Sofie se skuld nie. Maar toe ons nog altyd niks uit haar slaapkamer hoor nie, is ons altwee uit en kaalpoot is ons deur na die voorhuis.

Jy sal dit nie weet nie, maar die oorspronklike huis op Vaalbos het drie slaapkamers gehad - uit die voorhuis aan die noordekant was Pa en Ma se kamer. Reg oorkant en suid was ek en Sofie se kamer wat later ons jongste sus, Hermien, se kamer geword het. Uit die voorhuis het jy wes in die eetkamer geloop en aan die noordekant van die eetkamer was die seuns se kamer, maar almal het dit later geken as klein Katrien se kamer, al is sy ná boet Janneman gebore.

Daar was nie oorspronklik ‘n badkamer nie, maar in die hoek van klein Katrien se kamer was later ‘n bad - die soort met pootjies. Almal het daar gesig gewas in die wasskottel of gebad in drie-duim water wat ons met emmers moes indra van die handpomp af daar by die beeskraal. Die badkamer was voorheen die ou klein kombuisie. Die groter kombuis en my broer Bertie se kamer is baie jare later eers aangebou aan die agterkant van die huis.

Dit het gelyk of Ma se slaapkamerdeur toe is, maar dit was moeilik om te sê in die donker. Pa het daarvan gehou om ‘n ogie op ons dogters te hou en het elke aand hulle slaapkamerdeur so ses duim oopgelos. Jy kon altyd sy oog op jou voel waar jy ookal in die huis is.

Ons is af na die eetkamer tot in die donker kombuis met sy swart melk-en-roet vloere wat jou voete swart gevlek het. In die kombuis het mens altyd honger geword, en dis eers toe ons by die houtstoof staan, dat ons sien daar’s net koue as in die hert, en die fynhoutjies wat ek en Sofie die vorige aand opgetel het, was nog net so in die houtkassie langs die stoof. Eintlik het sy net rondgeloop en blare van ‘n takkie aftrek terwyl ek die fynhoutjies moes bymekaarmaak.

Pa was ongeduldig toe hy terugkom van die kraal af. 'En vir wat is dit nog nie gedoen nie?' wou hy weet, en stuur ons daar-en-dan uit in die skemer vir houtjies met 'n reguit arm en wippende snor nog voor ek kon sê ek moes eiers uithaal voor donker. Voor Ma ‘n ander werkie vir Sofie kon uitdink sodat sy nie fynhout hoef te soek nie, vat-vat hy klaar agter die kombuisdeur na die melkriem. Daarna is onstwee baie vinnig by die deur uit!

Dis ‘n wonder dat ek al hierdie dinge so goed kan onthou, maar Ma het altyd gesê ek’t alles gouer gedoen as ander kinders – gekruip op vyf maande en geloop op sewe. Pront praat op eenjarige leeftyd was glo ongehoord daardie dae, maar dis blykbaar hoe ek was. En om goed te onthou, was nog altyd maklik.

Daardie môre kon ons al die hoenders hoor kwok-kwok by die agterdeur. Daar was nog nie ‘n hoenderhok nie en hulle het sommer in die kurkbome geslaap net so duskant die plek waar Pa ‘n nuwe boord wou uitlê. Smoors het hulle kom mielies soek wat Ma dan in haar voorskoot vashou en met 'kiep-kiep-kiep!' dit in ‘n boog oor die hulle koppe gooi. Nou't hulle gewag vir die kos al was dit nog vroeg.

Mens kon sien die son was oppad oor die onderdeur so met die bodeur wat oopstaan. As niemand kyk nie, was dit die lekkerste ding om op die onderdeur te ry en bo-oor te loer. Jy kon aan Ma se voorskoot vashou wat altyd daar aan ‘n spyker hang, en jouself optrek tot op die onderste houtsport en dan was dit ‘n gespook om daar te bly hang én oor die deur te kyk. Sofie is vier jaar ouer as ek, en sy kon dit regkry, maar ek was te kort en ook te bang dat Pa my sou vang terwyl ek daar hang soos ‘n nagaap. Die strop was vêr te naby……………………….